Tuis

Scan10033

Baie geluk aan Mnr Andries Pienaar en sy seun Jacques van die plaas Klipplaatsfontein, Colesberg wat aangewys is as die Nasionale Skaapboer van die Jaar 2010. Ons dra ook ons gelukwense oor aan Mnre Johan en Dirkie van As van die plaas Kinko in die Swellendam distrik wat ook ‘n finalis saam met ons was.

2010 SKAAPBOER FINALISTE

Die broers Dolf en Thys Bam van die plaas Waterval in die Amersfoort distrik, boer semi-intensief met Dormer skape in ‘n kombinasie van die Sterstelsel (5 x in 3 jaar) en 3 lamseisoene in 2 jaar.  Hulle gebruik BLUP teelwaardes, met die klem op TWW waardes, om vrugbaarheid geneties te verbeter en vroegryp diere te teel.  ‘n Kenmerk van die produksiestelsel is die hoë speenpersentasie (ongeveer 200%) en die uiters lae lammortaliteite (minder as 1%) wat verkry word.  Sodra die eerste ooie lam, word alle ooie in lamhokke geplaas vir ongeveer 4 dae (enkelinge) en 7 tot 10 dae (twee en drielinge).  Die lamhokke huisves 252 ooie tegelykertyd onder dak en die fasiliteit word optimaal gebruik deur 10 groepe per jaar deur te sit.  Alle lammers word gespeen op ‘n ouderdom van 60 tot 70 dae.  Die doelwit is om 2.5 lammers per ooi per jaar te speen en ‘n 21 tot 24 kg A2/3 karkas op 100 tot 120 dae ouderdom aan die mark te lewer.  Diere moet ook voldoen aan die hoogste rasstandaarde.

Mnr Andries Pienaar en sy seun Jacques van die plaas Klipplaatsfontein, Colesberg boer met Merino’s op 10900 hektaar.  Hulle teeldoelwitte fokus op vrugbaarheid, speengewig (100 dae), karkas- en wolkwaliteit.  Sterk bykomende faktore is die waardetoevoeging wat gedoen word t.o.v. die genetika (Mega Merino), vleis (Shepherd’s Selection) en wol (Charisma Fleece), deur onder die onderskeie handelsmerkte te bemark.  Kursusse word aangebied vir kommersiële en opkomende boere en ‘n SEB projek is geïnisieer met swart boere op ‘n plaas in die Hanover distrik.  Kenmerke van die skaapproduksiestelsel is ‘n speenpersentasie van 132% (natuurlike veld) en 203% (besproeide weiding) en ‘n speengewig van 33kg op 100 dae ouderdom.  Hulle weiveld verkeer in ‘n uiters goeie toestand wat getuig van die erns wat hulle maak met die bewaring en  volhoubare benutting van die natuurlike hulpbronne.  ‘n Besigheidsmodel is ontwikkel wat die doeltreffende finansiële bestuur van die algehele besigheid verseker.

Mnre Johan en Dirkie van As van die plaas Kinko is broers wat al diep spore getrap het in die Merinobedryf in die Swellendam distrik.  Met bykans 4200 teelooie word ‘n speenpersentasie van 135% in ‘n teelseisoen van 30 dae (3 lamseisoene in 2 jaar) behaal.  Jong ooie word die eerste keer op 11 maande gepaar.  BLUP teelwaardes, met die klem op REW en TWW waardes, word  gebruik om meer winsgewende en doeltreffende diere te teel.   Finansiële resultate van die skaapbedryfstak word vergelyk met dié van ‘n studiegroep en die afgelope produksiejaar was die marge bo gespesifiseerde koste R1834 per ha aangeplante weiding teenoor die groepgemiddelde van R1551 per ha.  Die inkomsteverhouding tussen wol en vleis is 20:80 en 1.58 eenhede per teelooi per jaar is geproduseer.  Hulle skeer elke 8 maande met ‘n skeerselgemiddeld van 19.6 mikron en ’n jaarlikse wolproduksie van 5.8kg per skaap. Met die 3 lamseisoene (Februarie/Julie/November) is daar deurlopend lammers om te bemark.

 

Aan-de-Vallei