Geskiedenis Aan-De-Vallei 1968 – 2008

Hierdie advertensie van Aan-de-Vallei Dormers het op die agterblad van die Dormer Bylae tot die Landbouweekblad van 9 Februarie 1990 verskyn. Oom Piet het die SA Rekord prys tydens die Nasionale Veiling in 1989 van R 50 000 behaal vir die Ram DE8.155 wat deur Bruce en Theresa Mclachlen van Pretoria gekoop is. DE8.155 is dan ook deur Bruce vertoon tydens die Nasionale Dormer Kampioenskappe te Pietermaritzburg en word gekroon as die Nasionale Kampioen Dormer Ram. In vandag se geldwaarde is dit steeds ʼn rekord van ongeveer R 270 000 (gekapitaliseer teen 10% per jaar). Ek ondek nog 150 dosisse van DE8.155 se semen in die ou Aan-de-Vallei Semenfles, ons beplan om die ram vanaf Jan 2011 weer selektief te gebruik in die stoet.

1989NasV

 

 

Huldeblyk aan Oom Piet de Wet deur Erika Hanekom

So het ons die pad saamgeloop….

Ek en Pieter het vir Piet de Wet in 1971 tydens die Kaapse Skou (Goodwood) ontmoet. So het ʼn jarelange vriendskap ontstaan met Piet en Pieter as boesemvriende. Ons gemeenskaplike belangstelling en liefde vir die Dormer sou ons nog vir kilometers en baie jare ʼn pad saam laat loop. Ons het kennis en interessanthede omtrent Dormers gedeel en Dormers gesels van oggend tot aand. Wat veral interessant was, was dat toe ons mekaar die eerste keer besoek het, ons gevind het dat die tipe van ons Dormers redelik dieselfde was alhoewel hul kilometers van mekaar ontwikkel het. Moontlik as gevolg van dieselfde ideale en vereistes wat ons aan ons Dormers gestel het.

Piet het in die sestiger jare met Dormers begin boer met goeie ooie en ʼn uitstekende ram wat hy by Pietman Hugo gekoop het. Dit was nadat sy broer met ʼn besoek aan Australië gevind het dat boere daar as gevolg van die dalende wolpryse hulle op slaglamproduksie by die Merino’s begin toespits het. Ek haal aan uit ʼn artikel in die Landbouweekblad van 1 Mei 1973 oor Piet se Dormers “Hoewel wolboere in Suid Afrika sedertdien in ʼn groot mate tot hierdie praktyk (kruisteling) toegetree het, het die Australiërs die voortou geneem en wil dit voorkom of die metode van wol suiwer hou en terselfdertyd slaglammers uit ʼn deel van die Merino kudde te teel, veral in die lig van die stygende wolprys sowel as uitstekende vleisprys, ʼn rigting is wat nie gou gaan verdwyn nie.” Piet het van hierdie verwikkelinge verneem op ʼn tydstip toe hy juis daaraan begin dink het om slaglammers by sy Merinoboerdery in te skakel.

Piet, Pieter en ek het ons eerste Dormerkursus in 1971 op Elsenburg bygewoon. Oom Leep Ferreira, Boepies Erasmus, Piet Hayward en Kalf de Villiers was ons leermeesters. Jare daarna sou ek en Piet ook as instrukteurs by kursusse optree en as beoordelaars op skoue.

Ek en Pieter het 1970 vir die eerste keer Dormers op die Nasionale Veiling te Bloemfontein aangebied en vir Piet oortuig om in 1971 ook saam te gaan. So het ons sedert 1971 as groep telers uit die Boland deur die nag gery op pad na Bloemfontein en halfpad stilgehou om ʼn vleisie te braai en boerdery en Dormers te gesels en so die pad probeer korter maak. Die Bloemfontein veiling was ons hoogtepunt van die jaar, die Jaarvergadering en later ook die Raadsvergadering waarop ons gedien het met erns. Hier kon ons terugploeg in die ras wat ons hele lewe en bestaan was. Piet het vele hoogtepunte tydens die Nasionale Veiling bereik, soos die rekordprys vir ‘n Dormerram (R 50 000) in 1989, verskeie hoogste pryse vir ramme en ooie, toekennings vir die beste groep ramme en bemarker van die jaar. Dit was veral op die vergaderings waar hy sy woord goed kon doen as gevolg van jare se ondervinding deur oortuigend oor ʼn onderwerp insette te kon lewer.

Piet het graag geskou en was trots op sy diere. Hy het aan verskeie skoue deelgeneem waarvan die SA Kampioenskappe te Bloemfontein asook Goodwood, Bredasdorp en Beaufort Wes. Hy het ook die toekenning as teler van kampioene ontvang. ʼn Unieke prestasie was ʼn Dormerooi wat in 9 seisoene 32 lammers gelewer het.

Piet se wenmotief was baie sterk, die Dormer was sy lewe, sy kinders. Op ʼn oggend voor die skou, maar veral met die Nasionale Veiling sou hy speels verwys “ons kan pelle wees maar vandag is ʼn ander dag”, dan het ek geweet ons is nou in direkte kompetisie en moet maar so ʼn bietjie uit sy pad bly.

Na Pieter se dood in 1993 was die saamryery Bloemfontein toe iets van die verlede en het baie dinge verander.

Ons ramlammers het ook deelgeneem aan die Fase D2-groeitoets te Tweedie naby Pietermaritzburg in Natal, waar die naspeen indeks bepaal is. Die ramlammers is na speen op Worcester op die trein gelaai na Tweedie en na afloop van die toets het ons saam soontoe gery om die veiling by te woon.

Ons het ook vir ʼn aantal jare saam ramme na die Harrismith veiling geneem dit ʼn hele optog vanuit die Boland gemaak.

Piet het ook sy gewig ingegooi by Nampo veral met die diere wat hy vir die uitstalling beskikbaar getel het. Hy was ook my redding met een van die uitstallings toe ek op die nippertjie weens omvoorsiene omstandighede nie my diere kon neem nie en hy vir my op kort kennisgewing ingetaan het.

Gedurende die tagtigerjare het ons drie (Piet, Pieter en ek) ‘n toer deur die land onderneem om Dormertelers te besoek. Die Dormerpad het ons gelei na Klaarstroom, Somerset Oos, Steynsburg, Ladygrey,  Aliwal Noord, Rouxville, Boesmanskop, van Stadensrus, Wepener, Ladybrand, Ficksburg, Reitz, Heilbron, Frankfort, Parys, Nigel, Delmas, Pretoria, Brits, Lichtenburg, Hopetown en Victoria Wes. Dit was baie interessant om waar te neem hoe aanpasbaar die Dormer onder verskillende toestande was. Piet het vir ons die pad korter gemaak met al sy staaltjies en nabetragtings. Dit was ʼn ongelooflike ondervinding om die telers se liefde vir die ras, hul manier van dinge doen en hul ideale te kon deel.

Wanneer ons vir Piet en Elsie besoek het, was die hoogtepunt ʼn rit met die bakkie, skaaphonde agterop, na die lande om vir ons met trots die gesaaides en Dormers te wys. Hy het ʼn spesifieke manier gehad van dinge doen – netjies en perfek.

Solank as wat ek vir Piet geken het, was sy getroue werker en regterhand, Hendrik maar altyd daar. Hy het die Dormers met liefde versorg en voorberei vir veilings en skoue, en ook die paarseisoen en lamseisoen behartig. Hy was Piet se vertroueling en ook die persoon wat Piet gehelp het om besluite rakende die Dormers te neem.

Later het Piet vir Elroy as jong man in diens geneem en hy het ʼn lewendige belangstelling in Piet se Dormers getoon. Met Piet en Hendrik as sy leermeesters het Elroy ontwikkel in ʼn buitengewone kuddemeester wat later die leisels by Hendrik oorgeneem het.

Lourens Steyn, die seun van vriende, het soos hul eie seun op Aan de Vallei grootgeword en van kleins af ‘n liefde en belangstelling in die Dormers getoon. Ek sien hom nog op Robertson en Goodwood Skou as jong seuntjie wat Piet se Dormers vashou en later saam met sy bruin speelmaats beloon word met ‘n roomys. Later het hy Piet gereeld na Bloemfontein vergesel en saam besluit oor die verkope of aankope van nuwe Dormers. Soos hy vir soveel jare aan Piet se sy was en so baie dinge met hom gedeel het, so was hy ook die 9de September 2003 saam met Piet oppad na Bloemfontein en so het hul dan ook die laaste stukkie pad saamgeloop.

Onvergeetlik, so skielik, so onwerklik die gebeure op die N1 by Tweedside, tussen Touwsrivier en Laingsburg. Ons Dormerras is soveel armer, maar ons moet vorentoe om sy ideale ook ons s’n te maak om die Dormerras na groot hoogtes te lei.

Ek sal Piet onthou vir sy aangeboere liefde vir diere en besondere aanvoeling vir veral sy Dormers wat eintlik ook sy kinders was. Hy het sy stoetery met erns benader en net die beste was goed genoeg. Sy entoesiasme en geesdrif was aansteeklik soos menige teler kan getuig. Wat ek nooit sal vergeet nie was sy lyftaal – as hy baie ernstig en opgewonde gesels het, het hy die manier gehad om hier reg voor jou te kom staan en gesels en beduie met die hande. Hy was uniek.

Pieter se heengaan, Piet 10 jaar later, laat ʼn groot leemte in my lewe, maar ek dink met kosbare herinneringe aan hul met wie ek ook ʼn langpad saamgeloop het en sê dankie dat hul my lewe, maar ook die van soveel Dormertelers op vele maniere verryk het.

Weereens ons opregte meegevoel aan Elsie en die Steyn-familie

Erika Hanekom

 

Dormerspdf

Geskiedenis Aan-De-Vallei 2008+

geskied2

 

Die idee van ʼn groepteelskema of te wel ʼn kernkudde het reeds in September 2008 ontstaan. Die paaie van die Bam familie en Johann Theron het begin kruis met hulle soeke na die regte skaapras om mee te boer. Dit het weer aanleiding gegee tot die kontak met Jacques de Wet van Aan-de-Vallei Dormers, die res is geskiedenis. Hier uit het die kernkudde ontstaan uit diere van die Bam familie (aangekoop van bekende telers op produksie veilings en die Nasionale Dormer Veiling asook die resultaat van embrio spoelings van hierdie meerderwaardige diere), diere van die Dormica Stoet van Johann Theron (bestaan hoofsaaklik uit die nageslag van Aan-de-Vallei diere aangekoop op die boedelveiling van oorlede Oom Piet de Wet) asook al die diere van die Aan-de-Vallei Kudde van Jacques de Wet. Ons eer die nagedagtenis van die vader van die kudde, Oom Piet de Wet.