Agtergrond / Ligging van Plaas

Die plaas Waterval is geleë op die plato tussen Amersfoort en Piet Retief in die Mpumalanga Provinsie. GPS Koördinate : 27 01’17.64” S  en 30 09’18.71” E.  Geleë 34 km Oos van Amersfoort en 44 km Noord van Wakkerstroom. Ongeveer 1800 meter bo seevlak.

 Dolf 083

Hierdie is ʼn suurveld area met ʼn betreklike hoë reënval van ongeveer 800 tot 1000 mm per jaar. Oor die algemeen is die somers matig tot warm maar die winters is lank en koud met strawwe ryp. Lugtemperature in die somer is tussen 18 en 28 grade met minimum van ongeveer 10 grade.  Die maksimum temperature vir die winter is tussen 19 en 8 grade met minimums van tussen 2 en -6 grade.

Die Bam familie boer reeds vanaf 1963 in die omgewing, eers op die buurplaas en daarna vanaf 1978 op Waterval.  Die boerdery was ʼn Merino skaapboerdery tot in die negentiger jare waarna oorgeskakel is na melkproduksie op groot skaal (piek op 500 Jerseys in melk), die winsgewendheid van die melkboerdery het egter vanaf 2005 erg onderdruk gekom as gevolg van koste knyptang en die agteruitgang van die infrastruktuur in die afgeleë plattelandse gebiede van Mpumalanga. In 2006 is die gewigtige besluit geneem om die melkery te staak, al die volwasse diere is verkoop aan ʼn groot melkboer in Jeffreysbaai en die verse is uitgevoer na Ruanda, Ghana en Nigerië.

Met die vertakking van die boerdery nie meer hier nie moes ons ʼn alternatief kry om die gaping te vervang en om die kontantvloei van die boerdery in stand te hou. Na intensiewe navorsing is daar op die Dormer ras besluit, as gevolg van die aanpasbaarheid van die ras in ons omgewing asook die vrugbaarheid en die nie seisoenale teelsiklus van die Dormer.  Hierdie eienskappe is noodsaaklik vir die produksie van slaglammers reg deur die jaar en dus ʼn gesonde kontantvloei te verseker.

Roetekaart (Ko-ordinate 27 01’17.64” S – 30 09’18.71” E)

Vanaf Amersfoort (34km)

Neem die Piet Retief Pad uit Amersfoort, Draai regs op die Donkerhoek pad (1km), hou links by vurk na Donkerhoek (15km), draai links by T-aansluiting na Donkerhoek, 600 m draai regs by vurk na Donkerhoek, draai links by T-aansluiting na Donkerhoek (3km) en dan 200 m links by plaas in.

 Vanaf Volksrust (65km) en Wakkerstroom (44km)

Neem Wakkerstroom pad uit Volksrust, draai links op Amersfoort pad uit Wakkerstroom, 20 km draai regs op Driefontein pad, 14km ry oorkruising na Donkerhoek en dan 8 km plaas op linkerkant.

KaartSA1